Mẫu tìm kiếm

Esra 9

Esra hoor dat mense getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie

1Nadat hierdie dinge gebeur het, het leiers na my toe gekom en gesê: “Die Israeliete, die *priesters en die *Leviete het nie apart gebly van die ander mense in die land nie. Hulle het nie apart gebly van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, *Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete nie. Daardie mense doen dinge wat die Here haat. 2Nee, party Israeliete en hulle seuns het getrou met dogters van daardie mense. Die *gewyde volk het gemeng met die ander mense in die land, en die leiers en hoofde het dit eerste gedoen.”

3Toe ek dit hoor, het ek my *klere geskeur, ook my *bo-kleed. En ek het van my hare en baard uitgetrek en ek het gaan sit. Ek was baie hartseer en ontsteld. 4Ander mense het by my kom staan. Hulle was die mense wat bang geword het toe hulle dink aan wat die God van Israel sou sê omdat die mense baie *ontrou was, die mense wat *gevangenes in Babel was en wat teruggekom het. Ek was ontsteld en ek het daar gesit totdat dit tyd was vir die *aand-offer.

Esra bid

5Toe dit tyd was vir die *aand-offer, het ek opgestaan. Ek was hartseer en ontsteld en my *klere was geskeur, my *bo-kleed ook. Ek het op my knieë gaan staan en ek het my hande uitgesteek na my God die Here toe 6en ek het gesê: “My God, ek is baie skaam, ek voel baie sleg, ek kan nie opkyk na U toe nie, want ons sondes het baie geword, dit is so hoog soos die hemel. 7Ons is *skuldig, van die tyd van ons *voorvaders tot vandag toe, daarom het U ons en ons konings en ons *priesters gegee vir konings van ander lande. Hulle het ons mense doodgemaak, hulle het ons gevang en weggevat, hulle het ons goed gevat en hulle het ons *verneder. Dit is nou nog so. 8En toe was ons God die Here ’n kort tydjie jammer vir ons. Hy het party van ons vry laat wegkom en Hy het vir ons ’n vaste woonplek gegee in sy *gewyde plek. Ons God het ons oë weer laat blink, want ons was bly. Ons was *slawe, maar U het ons weer laat hoop. 9Ja, ons is slawe, maar ons God het ons nie gelos nie. Hy het die konings van Persië laat doen wat hulle belowe het. Ons het weer sterk gevoel om die *tempel van ons God te bou, om weer mure te maak van sy hope klippe. Ons kan veilig woon in Juda en Jerusalem. 10Maar, ons God, wat moet ons nou doen? Wat moet ons vir U sê? Ons het nie gedoen wat U gesê het nie. 11U het die *profete gestuur om vir ons te sê: ‘Julle sal kom in ’n land wat julle vir julleself sal neem, maar dit is ’n *onrein land. Die mense in die land het dit onrein gemaak. Hulle het op elke plek in die land dinge gedoen wat Ek haat, hulle het die land onrein laat word. 12Daarom mag julle nie julle dogters laat trou met hulle seuns nie, en julle seuns mag nie trou met hulle dogters nie. Julle moet die mense van die land nooit help dat hulle vrede kan hê en dat dit goed kan gaan met hulle nie. As julle doen wat Ek sê, dan sal julle sterk wees en julle sal al die goeie dinge van die land kan geniet. Julle sal die land vir julle kinders kan gee sodat dit hulle land sal wees.’

13“Baie dinge het met ons gebeur omdat ons verkeerd gedoen het en omdat ons so baie sonde gedoen het. Ja, ons sondes was baie, maar U het ons nie so baie gestraf nie. U het party van ons laat aanhou lewe. 14Maar ons het wéér nie gedoen wat U gesê het nie, ons het getrou met mense wat dinge doen wat U haat. U is nou baie kwaad vir ons, en U moes ons almal doodgemaak het, niemand moes aangehou lewe het en vry weggekom het nie. 15Maar, Here, God van Israel, U is die God wat reg doen. Ons het aangehou lewe, ons het vry weggekom. Hier is ons nou voor U, ons het sonde gedoen. En omdat ons sonde gedoen het, kan niemand voor U bly staan nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index