Mẫu tìm kiếm

Numeri 14

Die Israeliete is opstandig

1Die hele *volksvergadering het hard geskree, en die mense het daardie hele nag gehuil. 2Al die Israeliete het vir Moses en Aäron beskuldig. Die hele vergadering het vir hulle gesê: “Ons wens ons het in Egipte gesterf of hier in die woestyn, ons wens ons was dood. 3Hoekom bring die Here ons na hierdie land om in oorlog te sterf? Die vyande sal ons vroue en kinders vir hulleself vat. Dit sal vir ons beter wees as ons teruggaan na Egipte.”

4Hulle het vir mekaar gesê: “Kom ons kies ’n leier en gaan terug na Egipte.”

5Moses en Aäron het daar voor die volksvergadering, voor die vergadering van die Israeliete, gaan lê met hulle gesigte teen die grond. 6Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne was twee van die manne wat gaan kyk het hoe die land lyk. Hulle het hulle *klere geskeur 7en hulle het vir die hele vergadering van die Israeliete gesê: “Ons het deur die land gegaan en ons het na die land gaan kyk. Dit is ’n baie goeie land, baie goed. 8As die Here goed is vir ons, dan sal Hy ons in hierdie land bring en Hy sal dit vir ons gee. Dit is ’n *land waar daar baie melk en heuning is. 9Maar dan moet julle nie *opstandig wees teen die Here nie en julle moenie bang wees vir die mense in die land nie. Ons sal hulle maklik oorwin. Niemand sal hulle kan beskerm nie. Die Here is by ons, julle moenie bang wees nie.”

10Die hele vergadering het toe gesê hulle gaan vir Josua en Kaleb doodgooi met klippe. Maar toe sien al die Israeliete dat die Here, die Koning, by die tent is waar Hy aan die Israeliete *verskyn. 11Die Here sê toe vir Moses: “Hierdie volk hou aan om te maak of Ek nie vir hulle belangrik is nie. Ek het vir hulle baie *tekens gewys. Hulle glo nie dat Ek hulle sal help nie. Hoe lank wil hulle aanhou om dit te doen? 12Ek sal hulle siek laat word van *pes en Ek sal hulle almal laat sterf. Dan sal Ek jou *nageslag ’n volk maak wat groter en sterker as hulle is.”

Moses vra dat die Here die volk moet vergewe

13Toe sê Moses vir die Here: “Die Egiptenaars sal dit hoor, want U het hierdie volk van hulle laat weggaan omdat U sterk is. 14Die Egiptenaars sal praat met die mense wat in hierdie land woon. Hulle het gehoor dat U, die Here, by hierdie volk is en dat U self aan hulle *verskyn. Hulle het gehoor dat U hulle in die dag lei met ’n wolk bokant hulle en in die nag met vuur. 15As U nou die hele volk laat sterf, dan sal die volke wat van U gehoor het, sê: 16‘Die Here was nie sterk nie, Hy kon nie hierdie volk in die land bring wat Hy vir hulle belowe het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn laat sterf.’ 17Daarom, Here, U moet asseblief nou wys dat U sterk is. U het self gesê: 18‘Ek, die Here, is geduldig en vol liefde, Ek vergewe mense wanneer hulle sonde doen en *opstandig is, maar Ek sê nie iemand is *onskuldig wanneer hy *skuldig is nie, Ek straf die *nageslag oor die sondes van hulle *voorvaders, Ek straf hulle tot in die derde en vierde *geslag.’ 19U is altyd vol liefde. U het hierdie volk se sondes vergewe van die tyd toe hulle weggegaan het uit Egipte tot nou toe. U vergewe hulle sondes tot in die derde en vierde geslag. Vergewe hulle asseblief nou ook.”

Die Here straf die volk

20Die Here het gesê: “Ek vergewe hulle soos jy gevra het, 21maar so seker soos Ek lewe, so seker soos Ek Koning is van die hele aarde, 22hierdie mense het gesien dat Ek die Koning is, hulle het die *tekens gesien wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, maar hulle het My tien maal getoets en hulle het nie na My geluister nie. 23Daarom sal nie een van hulle die land sien wat Ek aan hulle *voorvaders belowe het nie. Nie een van die mense wat gewys het dat Ek nie vir hulle belangrik is nie, sal die land sien nie. 24Maar my *dienaar Kaleb was anders, hy het aangehou om in My te glo. Ek sal hom na die land bring waarnatoe hy gegaan het, en die land sal aan sy *nageslag behoort. 25Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die lae deel van die land. Julle moet môre wegdraai en verder in die woestyn ingaan op die pad na die Riet-see.”

26Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 27“Hierdie slegte volk hou aan om My te beskuldig. Ek het gehoor dat die Israeliete My beskuldig, 28en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur: 29Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het. 30Ek het belowe dat julle in daardie land sal woon, maar julle sal nie daar kom nie, net Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun sal daar kom. 31En julle kinders? Julle het gesê dat die vyande hulle sal vat. Maar Ek sal húlle daar bring, húlle sal die land ken wat vir júlle nie belangrik was nie. 32Maar julle, julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, 33en julle kinders sal 40 jaar lank skape en bokke moet oppas in die woestyn. Julle was *ontrou, en daarom sal hulle swaarkry, totdat al julle dooie liggame in die woestyn lê. 34Julle het manne gestuur om 40 dae lank te kyk hoe die land lyk, en Ek sal julle ’n jaar lank straf vir elke dag. Julle sal 40 jaar lank die straf moet dra vir julle sonde, julle sal weet dat Ek kwaad is vir julle. 35Ek, die Here, het gepraat. Ek sal dit doen aan hierdie slegte volk wat in hierdie woestyn *opstandig was teen My. Hulle sal almal hier sterf.”

36Moses het manne gestuur om te gaan kyk na die land. Die manne het teruggekom en hulle het vals stories oor die land vertel. Hulle het die hele *volksvergadering opstandig gemaak teen Moses en hulle het vir Moses beskuldig. 37Daardie manne wat die vals stories vertel het, het almal gesterf van die *pes wat die Here gestuur het. 38Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne het saam met die manne na die land gaan kyk, maar hulle het nie gesterf nie, hulle het aangehou lewe.

Die Amalekiete en die Kanaäniete oorwin die Israeliete

39Toe Moses vir die Israeliete alles sê wat die Here gesê het, het die volk gehuil en getreur. 40Hulle het die oggend vroeg opgestaan en hulle wou opgaan in die berge. Hulle het gesê: “Hier is ons, ons het sonde gedoen, maar ons wil nou na die plek gaan wat die Here vir ons belowe het.”

41Moses het vir hulle gesê: “Hoekom hou julle aan om ongehoorsaam te wees aan die Here? Julle sal nie slaag nie. 42Julle moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. As julle in die land ingaan, dan sal die vyande julle oorwin. 43Die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, julle sal sterf in die oorlog omdat julle weggegaan het van die Here, Hy sal nie by julle wees nie.”

44Maar die Israeliete was hardkoppig, hulle het opgegaan na die berge, en die *verbondskis van die Here het in die kamp gebly. Moses het ook daar gebly. 45Die Amalekiete en die Kanaäniete wat in daardie berge gewoon het, het afgekom en hulle het die Israeliete oorwin. Hulle het die Israeliete na al die kante toe gejaag tot by die stad Gorma.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index